About the TV-adaption (1989) of "Môre is'n lang dag" by Deon Opperman

(Source: Beeld-Kalender, Freitag, 3. Nov. 1989)

Opperman se eerste op skerm

Toneel
Deur
NUSHIN ELAHI


DEON OPPERMAN se eerste drama, Môre is 'n lang dag, word binnekort
vir televisie geskiet.
Opperman het Môre is 'n lang dag in 1984 geskryf as deel van die
ATKV se Kampustoneelfees. Dit was 'n onmiddellike sukses en het 'n
vloedgolf letterkunde oor die weermag-ervaring tot gevolg gehad.
Die dramaturg het voortgegaan om met From Midnight to Morning,
Die teken, Aap in die mou en heelwat ander werk sy skielike roem te
verstewig. Op die oomblik word sy jongste Afrikaanse drama, Stille
nag, by Windybrow in Johannesburg opgevoer.
Hy skryf self die draaiboek vir die teledrama van 90 minute. P G
du Plessis se maatskappy, Sommatel, vervaardig die televisieproduk.
Dit word op film geskiet en sal later oorgeplaas word op videoband,
waarskynlik in die hoop dat dit later as vollengte rolprent uitgereik
kan word.
Opperman het heelwat herskryf sodat die teks nie so langdradig
is nie. ''Baie tonele waarna verwys word in die drama, het ek tonele
gemaak, byvoorbeeld die kontaktoneel. Daar is geen terugflitse nie,
maar dit speel oral in die kamp af,'' sê hy.
Hy is hoog in sy skik met die projek. ''Dis vir my lekker, want
dis die drama waarmee ek in die teater ingekom het, en dis nou die
drama waarmee ek in televisie inkom,'' sê Opperman. ''Dis vir my 'n
sirkel. Om die drama vir televisie te herskryf, het my so lank geneem
as wat die drama my oorspronklik geneem het: drie dae.
''Die weermag was 'n persoonlike ervaring, die stemming was
persoonlik, maar nie een ding wat daarin gebeur het, het met my
gebeur nie.''
In die rolbesetting is Arnold Vosloo as die gespierde Lappies,
Bruce Fields is Kosie, Jeremy Mansfield is Van, Albert Maritz is
Christo en daar word onderhandel met David Butler vir die rol van
Neil. Ryno Hattingh speel die luitenant. Die makker wie se dood die
katalisator is vir die botsing tussen die troepe, sien 'n mens nou
wanneer hy geskiet word en in die siekeboeg. Frank Opperman vertolk
die rol van Willie.
Die verfilming begin aanstaande week, maar Môre is 'n lang dag
sal eers aanstaande jaar gebeeldsaai word.