Interview in: Volksblad, June 8th, 1999

JOHANNESBURG. ``Haai, haai,'' groet hy. Dit is dieselfde gemaklike
Boetie. Gespierd, 'n raps ouer, met 'n perfekte lui Los Angeles-aksent.

Arnold Vosloo is vir 'n heen-en-weertjie in Suid-Afrika om sy nuwe
rolprent, The Mummy, wat reeds nagenoeg $130 miljoen in Amerika verdien
het, bekend te stel. Sy vertolking van 'n bose Egiptiese hoëpriester,
Imhotep, wat al tien plae op Egipte wil loslaat, maak uiteindelik
daardie stram deure oop ná elf jaar se swoeg in die bedrieglike
Hollywood. ``Mense met wie ek jare gelede gewerk het, bel nou om te hoor
of daar iets is wat hulle vir my kan doen. Ek is gelukkig lank genoeg in
die bedryf om weg te bly van hulle.''

Hy het reeds twee aanbiedings met vet salaristjeks van die hand gewys.
``Ek sal nou versigtig moet kies. Die volgende rol gaan die deurslag
gee. Dit lyk of ek nou die boef-rolle kry, dié wat Gary Oldman so 'n
paar jaar gelede gekry het. Ek smag egter na iets soos Kevin Spacey se
rol in Seven.''

Verder lag hy en die bankbestuurder lekker, want 'n spesiale bonus is
syne met elke $25 miljoen wat The Mummy verdien.

Die verfilming was rof. Dit is 'n nuwe weergawe van die ou klassieke
gelyknamige prent wat in 1932 uitgereik is. ``Twee maande in Marrakesj
en vyf maande in Londen. Ons het twee sandstorms deurleef en 'n klomp
van die span is deur skerpioene gesteek.''

Daarby moes hy die antieke vorm van die Egiptiese taal leer by Steward
Smith, 'n egiptoloog. ``Om te sê `ek soek water' is vier bladsye in ou
Egipties. Die regisseur het my versoek om iets te skreeu wat nie in die
draaiboek was nie. Ek moes toe iets opmaak en die duiwel was op my
skouer om 'n paar lekker Afrikaanse woorde in te gooi.''

Hy meen die sukses van The Mummy is te danke aan 'n publiek wat moeg is
vir ruimteflieks. ``Daar was tien jaar gelede laaste so 'n fliek, iets
avontuurliks soos Indiana Jones. Ek het geweet dit sou goed doen, maar
nie só goed nie. Dit is 'n springmielie-fliek, g'n Tsjekof nie.'' Dit
word op 9 Julie in Suid-Afrika uitgereik.

Die afgelope twee jaar was doodstil werkgewys. ``Ek het 'n stil lewe
gehad. Bedags het ek met my hond gaan stap langs die see. Nou is ek pas
terug uit Europa om The Mummy bekend te stel en volgende week vlieg ek
Japan toe. Ek woon in wonderlike hotelle in al die groot stede, maar al
wat ek daarvan sien, is die hotel se spyskaart.''

Hy mis Suid-Afrika en hoop die sukses van die prent sal hom in staat
stel om hier te kom werk.``Hopelik sal plaaslike rolprentmakers nou geld
kan kry as my naam aan hul projek gekoppel word. ''

Hy mis dit veral om werk te doen wat 'n sosiale impak het, om 'n akteur
te wees wat relevant is . ``Hier het dit gevoel of my werk 'n sosiale
boodskap het. Daar gaan dit net om geld.''

As daar 'n rol is waarna hy smag, is dit dié van die bankrower André
Stander. ``Peter Hoffman het die draaiboek, ek weet hulle beoog Daniel
Day Lewis vir die rol. Ek dink hy is 'n komplekse karakter, wat as
polisieman ná Sharpeville al sy respek vir die uniform verloor het.''

Vosloo en sy vrou Sylvia, 'n bemarkingsbestuurder vir 'n groot
ouditeursfirma woon in Santa Monica.