Suksesvolle Arnold Vosloo se hart bly in Suid-Afrika

(Interview by Maureen Joubert, Source: Die Burger, 1st of October, 2003)

ARNOLD VOSLOO het ná sowat 14 jaar in Hollywood nie veramerikaans nie, selfs nie eens verengfrikaans nie. Hy het ook sonder Hollywood-entourage en vernaamheid die Kaap binnegeglip om 'n rol te speel wat hom na aan die hart lê. Nie 'n Amerikaanse blockbuster nie, maar 'n eg Suid-Afrikaanse drama wat met ons tyd en politieke situasie te doen het. 'n Rol waarvoor hy sedert sy vertrek uit Suid-Afrika sy tande slyp.

In die plaaslike Dv8 se tweede rolprent, Forgiveness , vertolk Vosloo die rol van 'n apartheidspolisieman op soek na kwytskelding ná sy aandeel in die dood van 'n jong bruin politieke aktivis. Hy onderneem 'n reis na die Weskusdorpie (Paternoster) waar die familie van die oorledene woon, en soek vergifnis by die jong man se gesin vir sy rol in die dood van hul seun. Dï t ondanks sy kwytskelding deur die WVK.

Die prent is deel van die Dv8-inisiatief om oor die volgende drie jaar 12 inheemse Suid-Afrikaanse rolprente te ontwikkel, vervaardig en bemark. Ander spelers sluit Zane Meas (van Isidingo -faam) en Quanita Adams in.

Vir die rol het Vosloo min aan sy voorkoms verander. Hy spog wel deesdae met 'n snor wat by die karakter van Tertius Coetzee pas, maar hy bly steeds die clean cut kid van die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf. En verfrissend reguit en spontaan en hoflik.

Forgiveness gaan die aandag trek, maar eerder as kunsfliek as groot treffer, glo hy. Desondanks het Vosloo graag ingestem om deel te word van dié prent met 'n beperkte begroting, nadat hy in Amerika kennis gemaak het met Ian Gabriel van Giant Films, regisseur van die rolprent.

Vir Vosloo het sy karakter die omvang, substansie en passie wat hom geval. Buitendien bied dit hom die geleentheid om vir die eerste keer in 14 jaar weer in SuidAfrika te werk -- in 'n rol wat eg Suid-Afrikaans is. Dit ook danksy 'n opwindende en deurdagte draaiboek deur Greg Latter.

Sedert hy Hollywood ingevaarhet, besoek hy Suid-Afrika en sy ouers in Johannesburg gereeld. Maar Forgiveness gee hom die geleentheid om nou ook kennis te maak met die kleurryke mense van Paternoster, en om saam met Suid-Afrikaanse akteurs te speel, sê hy.

"Ondanks die sukses wat ek in Hollywood behaal het, bly my hart hier," sê hy. "Van ons bly elders, maar in jou bloed bly jy 'n Afrikaner, onontkombaar Suid-Afrikaans. En al is ek 'n swerwer, wil ek uiteindelik iets van my buitelandse ervaring in my land terugploeg."

Sukses had hy beslis as een van 'n handjievol Suid-Afrikaners wat dit in Hollywood "gemaak" het -die ander sluit in Charlize Theron en Embeth Davidtz.

Hy's nou 41 en reeds gevestig in die Amerikaanse rolprentbedryf. "Nee, ek was nog nooit spyt oor my destydse besluit nie, en skryf wat ek bereik het toe aan geluk en harde werk. Ek wil myself ook in die volgende vier of vyf jaar verder vestig in die Amerikaanse rolprentbedryf en dan terugkeer om in Suid-Afrika te werk."Dit het ook maar broekskeur gegaan om tyd in te ruim vir Forgiveness . Hy begin binnekort met die vervolg op die baie gewilde TVreeks Veritas: The Quest , wat in Los Angeles verfilm word. Die derde Mummy -rolprent word ook nog vanjaar aangepak.

Uit onderhoude en besprekings kom jy gou agter dat Mummy geen geringe rol gespeel het nie in die sukses wat hy in Amerika, en ook wêreldwyd, behaal het. Ondanks die feit dat dié mooi man "gesigloos" op die skerm verskyn, is sy karakter reeds 'n soort kultusfiguur.

Die naam Arnold Vosloo is genoeg om oud en jonk van oral oor opwindend na die karakter Imhotep in The Mummy en The Mummy Returns te laat verwys. Die tweede vervolg, sê aanhangers, sal nie dieselfde wees sonder Vosloo in 'n hoofrol nie.

Mummy was 'n uitdagende rol, maar hy het dit terdeë geniet. Die rolprente is gesinsvermaak wat nie te ernstig opgeneem moet word nie, sê hy. En uiteindelik verg sy vertolking dieselfde toewyding, dissipline en inlewing as in'n Shakespeare-stuk.

Sy rol in Veritas voltooi vir hom in 'n mate 'n sirkel. Hy kon hom daardeur bewys as gewilde TV-karakter naas rolprent- en verhoogakteur.

"Jy moet al drie vlakke aanpak om werklik sukses te bereik," sê hy. "Die verhoog vir kuns, televisie vir bekendheid en roem, en rolprente vir die geld!"

Een van die talle hoogtepunte in sy Amerikaanse loopbaan was sy optrede saam met Al Pacino in die opvoering van Salome in New York se Circle in the square.

Vir baie van ons bly Vosloo egter van Boetie gaan border toe faam, en dis ook verfrissend om na hom te luister en te weet hy bly steeds 'n geliefde seun van ons land. Selfs sy hond is "Suid-Afrikaans", 'n Staffie met die naam Sophie, wat met groot moeite opgespoor is in 'n land wat maar weinig weet van dié terriërs.

Sophie woon saam met Arnold en sy vrou, Sylvia, 'n rekenmeester, op die kusdorpie Santa Monica naby Los Angeles, 'n informele plek waar jy jouself kan wees. Nes hy dit verkies.